Maart 2015

die kroon

Uitgawe 19

En so word ons Krone ouer en mooier en wyser! Kyk nou weereens ons 100-jarige—Betsie Beyers! Dan besef ek hoe goed ons Hemelse Vader ons Krone bewaar en dan hou Hy hulle nog so mooi en pragtig ook! Ek hoop almal sien die mooi wat ek in daardie silwerkoppe ervaar, ook raak.
Ek gaan met vakansie vanaf 23 Maart, dus sal Die Kroon in April bietjie later as gewoonlik verskyn. Ek gaan bietjie na WP/Stormer-land (my homeland) sodat ek weer my voete in die see kan sit en die Suidooster my kop kan skoon waai!


Mag elke Kroon die Paasfees die Liefde van Christus ervaar en sodoende saam met Hom die Kruistog stap.

Groetnis
Redakteur (Wanie)

Algemene Nuus — Die eeu-oue Kroon van Kronendal

Betsie100U19 Betsie100UitrustingU19 Betsie100koekU19

Foto links: Betsie Beyers – Foto middel: Betsie in haar verjaarsdag uitrusting – Foto regs: Die koek

Betsie Beyers loop nog regop en is vol laggies en geselsies. Hoe dan nou anders, want as ‘n mens die geseënde ouderdom van 100 bereik, kan jy net baie dankbaar glimlag. Met haar positiewe gesindheid is sy net ‘n inspirasie vir mede-Krone.

Ek het al in ‘n vorige Kroon ‘n profiel oor Betsie geskryf, maar op Saterdag, 28 Februarie het sy heel dag partytjie gehou. Ek glo sy was die aand pootuit.

Met middagete het al die Krone saam in haar vreugde gedeel en het sy ‘n ruiker ontvang van Help Seniors. Namiddag, terwyl die inwoners koeksisters by hul koffie kon geniet, het Betsie ’n privaatpartytjie in die Sonkamer gehou. ‘n Heildronk is ingestel en haar susterskind het Betsie se lewensverhaal met die gaste gedeel . Daarna is gesellig saam verkeer en kon elke gas haar ‘n drukkie gee.

Allerlei Stories, Feite en Geite

IssieU19

Links : Issie Odendal , ‘n Riversdaler van die Weskaap. Sy het haar man, Dirk in kaapstad ontmoet waar hy vir Doeane en Aksyns gewerk het. Hulle moes 25 keer tussen Pretoria en Kaapstad pendel a g.v. Parlementêre werk. Na 53 jaar getroude lewe het hy haar ontval. Hulle het 2 kinders, 3 kleinkinders en 1 agterkleinkind.

Issie was vir 48 jaar lid van die SA Vroue Federasie en vir 20 jaar voorsitter van die Wonderboomtak. Dit is hier waar sy kombersies vir Welsyn begin brei het. Sy is vanaf Julie 2008 ’n gelukkige Kroon en selfs hier brei sy en ‘n hele paar vriendinne kombersies

 

 

 

 

KittieMalanU19

Links: Kitty Malan alias “Ouma Padkos”, is gebore op Philippolis en daar gematrikuleer. Sy het ’n sekretariële kursus aan Worcester Tegniese Kollege voltooi. Daarna het sy as sekretaresse van die Registrateur van UOVS gewerk. Sy het haar man hier ontmoet. Hy was later Professor in Biblioteekkunde en Letterkunde aan verskeie universiteite. Kitty het ook vir 3 jaar bande vir blindes gelees en sodoende blindes help studeer aan die universiteit.. Beide Kitty en haar man het albei Carnegie-beurse gekry om oorsee navorsing te kon doen vir blindes. Hy het ook ’n Ere-doktorsgraad van die UOVS ontvang. Hulle het in 2006 Krone geword, maar hy het haar ontval na 61 jaar van getroude lewe. Uit die huwelik is 2 seuns gebore. Daar is 7 kleinkinders en 9 agterkleinkinders. Kitty het juis op haar 90ste verjaardag ’n boek saamgestel vir haar kinders—”Saam met Ouma Padkos”.

 

 

mariaU19Ons heet graag die Inwonerskomitee se “baby” welkom—Die Krone Winkel. Hier gaan ons 2 woekeraars, Chrissie en Esther, na hartelus verkoop. Sien die naambord in die kelder.

Links is Maria besig om die vertrek skoon te kry. Baie voorspoed en baie geldmaak!