Uitgawe 44 April 2017

 

Ons kry so baie raas oor die tuin se omdolwe—wag maar net en sien hoe gaan alles groei en mooi wees. Veertig jaar terug was daar net so ’n gewerskaf om die nuwe aftree-oord reg te kry vir opening.

Ons het ’n pragtige paar Krone bygekry en ek hoop hulle voel gou tuis. Ek wil net aan hulle ons PIN-nommer bekend stel—nl 4116—die 4de Evangelie, die 1ste hoofstuk, die 16de vers.

Uit Sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade

Out of the fullness of His grace he has blessed us all, giving us one blessing

after another

May every Crown and every staff member enjoy a blessed April!

Kroonpaasgroete/Crown  Easter greetings

Wanie (Redakteur/Editor)

 

Bo: Elene Marneweck, is ‘n gebore Bolander en kom van die wynlande by Robertson. Sy is die oudste van 9 kinders wat daar op ‘n wynplaas groot geword het.

Sy het matrikuleer op Worcester en haar eggenoot ook daar ontmoet. Hulle is op 4 /1/1964 getroud en sy was al die jare ‘n huisvrou m en ‘n mamma vir 2 kinders Hy was verbonde aan die Staatsdrukkery en sodoende is hulle later Pretoria toe verplaas.

Haar eggenoot het haar in 2015 ontval en sy het ‘n Kroon geword op 29/08/2016.

Sy wil graag haar dankbaarheid aan haar kinders en ook dat sy so heerlik by Kronendal bly, aan die wêreld verkondig.

Baie dankie vir jou positiwiteit, Elena!

 

 

 

Bo: Mientjie Deale, een van ons bekende inwoners. Sy en haar eggenoot het Krone geword op 1/2/1996, maar hy het haar ‘n jaar later ontval.

Sy was ‘n nooi Boshoff van Koster se wêreld(haar oorlede broer, Sakkie Boshoff en sy vrou, Monica, was ook inwoners hier).

Nadat sy op Swartruggens gematrikuleer het, is sy na Heidelberg Onderwyskollege. ‘n Staaltjie wat sy vertel is dat sy en drie mede studente in hulle proeftydperk een nag deur ‘n inbreker oorval is en haar splinternuwe kleurbaadjie gesteel is. Wys jou, skelms is daar altyd!

Sy het op ‘n hele paar plekke onderwys gegee asook gedoseer by die Onderwyskollege.

Terugslae was daar ook soos haar polio in 1948.

Sy het haar man op Potchefstroom ontmoet en is in 1949 getroud. Later is 2 kinders gebore waarvan een oorlede is in dieselfde jaar as haar man. Sy het ook 4 kleinkinders.

Mientjie het ook op Warmbad geboer terwyl haar man melkvervoer gedoen het.

Sy het ‘n vol lewe in Kronendal gelei en het deelgeneem aan kore,  koekverkopings en sy kan pragtige stories voordra.

Sy wil op geen ander plek as Kronendal bly nie  – hulle het nie verniet 4 jaar gewag om plek te kry nie.

Mientjie baie dankie vir jou positiewe houding en ons lief jou!

 

 

 

Paul le Roux (1919-2014) en Alda Uys (bo)(1925) het mekaar op Stellenbosch ontmoet waar hy vir predikant en sy ‘n meestersgraad in maatskaplike werk gestudeer  het.  Sy moes met haar fiets op dertig wynplase navorsing doen oor die dopstelsel en hy het saamgegaan daarvoor. Hulle is in 1948 in hul eerste gemeente , Makumbe, in Zimbabwe, getroud. Daar is hul oudste dogertjie, Ansu, kort na geboorte oorlede en op Morgenster begrawe. Vanaf 1958 was hy sendeling in Port Elizabeth in Kwazakhele en New Brighton onder die Xhosas. In 1961 tot 1969 was hulle eers in die moedergemeente van Schweizer-Reneke en in 1964 het hulle afgestig in Schweizer-Reneke Noordgemeente. In 1970 tot 1979 het hulle Melville gemeente bedien en van 1980 tot 1989 was hulle by die NG gemeente Danie Theron, Eikenhof.

Hulle het vyf kinders grootgemaak van wie vier nog lewe en hulle het tien kleinkinders. Paul was ‘n speel-pa en -oupa wat toe ons en later die kleinkinders, klein was almal kapoet gespeel het. Hy het al sy kinders getrou en glad twee van sy kleinkinders ook.

Ons jongste sussie, Alda, het vir hom geskryf en opgesom wat ons almal in ons gesin van hom beleef het:” Ek onthou hoe Pa altyd gekniel het by Pa se stoel in die studeerkamer, en lank met God gepraat het. Ek onthou hoe ek by Pa se voete aan die slaap geraak het in die studeerkamer. Ek kon Pa se voet die heeltyd vashou, en dan het Pa my met die trappe opgedra na my kamer… Of so neem ek aan, want ek het in my eie bed wakker geword.”

Soos iemand na ons pa se dood geskryf het: ”Ons sal hom altyd onhou vir sy vrolikheid, grappies en bemoeienis wat hy met elkeen, groot of klein gehad het. “ Alda het hom absoluut bygestaan in sy werk en sy het ook by Maria Kloppers Kinderhawe gewerk en later jare by CMR in Johannesburg. Na haar aftrede het sy deeltyds by die kleuterskooltjie, Pre-Primêr Boempie,  gewerk totdat hulle in Kronendal kom woon het. Sy is baie lief  vir mense en vir ons kinders is dit altyd besonders dat  hulle vriende so met haar kontak hou.

Dit was vir ons ‘n riem onder die hart toe pa Paul so siek geword het met hidrokefalie dat hy vir 18 maande bedlêend was en die personeel van Kronendal hom elke twee uur omgedraai het om bedsere te voorkom en hy nooit ‘n bedseer gehad het nie.

Hier in Kronendal  was hulle saam baie gelukkig en ma Alda nou nog. Ons familie het al menige familiepartytjie hier in die lapa gehou en dit baie geniet.

– Annekie Pretorius (dogter van Alda le Roux)

 

 

 

Bo staande: Willie Snyders en Niek Prinsloo

Bo sittende: Martie Nieuwoudt, Marié Venter en Marjorie Snyders.

Kyk net hoe mooi “pose” hulle vir ons advertensie in die Solidariteit tydskrif.