Mei 2017 UItgawe 45

Die afgelope tyd was daar so baie vakansiedae en ek glo ons personeel kon so ‘n bietjie rus. Nou kruip die winter vinnig nader en ek hoop ons Krone bly gesond. Onthou om die lanklewe pilletjies te drink!  As julle nou onthou om dit te drink en ons kry so baie nuwe Krone by, is Kronendal een van die dae weer vol!

Vir al die nuwe Krone—mag jul verblyf hier aangenaam wees.

Ons glo dat met die genade van ons Liewe Heer, ons personeel die krag sal kry om weer eens ons Krone in hierdie maand met liefde en respek sal behandel. Baie dankie vir hul harde werk.

 

Kroongroete/Crown  greetings

Wanie (Redakteur/Editor)

 

 

Ons sê graag aan Aat van der Dussen (bo) baie dankie vir die 10 jaar wat hy so pligsgetrou die reënval op die dak gaan meet het. Vandat hy sy rug beseer het, het dit baie moeilik vir hom geword om die steil trappe op die dak te klim. Lekker rus Aat!

Aat het die leisels oorgegee aan LB van der Merwe.

 

 

Bo: LB van der Merwe en sy vrou, Sussie is Krone vanaf 1/3/2017 en hy is nog ‘n baie bedrywige man. Sussie is egter bedlêend. Hy is ‘n boorling van Philipstown en sy van Hanover. Hy het sy skool loopbaan in Hoër Jongensskool Paarl voltooi. Hy was in ‘n rekenkundige beroep en sy het haar eie haarsalon besit. Hulle is in 1963 getroud en het 3 kinders.

Baie dankie LB vir jou bereidwilligheid om te help met die reënval.

       

Bo, links: Die bestuurder, dr Mulder van Eyk, gee aan elke inwoner wat gedurende die 1ste 4 maande van die jaar verjaar het, ‘n geskenk. Daarna is ‘n heerlike tee gehou en gesellig saam verkeer.

 

Bo, regs: Aandagtig sit die inwoners en wag om te kyk wie se name uitgeroep gaan word. Die geskenkie het bestaan uit ‘n notaboekie bedoel vir hul yskasdeure  en ‘n skokolade(CHOMP)- wat beteken “Christus Help Ons Met Probleme.”

                 DANKIE!

Ek het vandag geval net buite my kamerdeur en op my knie te lande gekom. My eerste gedagte was dat ek my knie gebreek het. Terwyl ek in skok op die vloer gelê het, het ek hard geroep na iemand om my te kom help. Een van my bure se deur het oop gegaan en sy het onmiddellik die versorgingseenheid geskakel. Binne seker minder as tien minute was ek omring deur versorgingspersoneel wat my knie ondersoek het en my opgehelp het en na my kamer geneem het. Hulle het my bloeddruk geneem en my versorg. Deur die middag en aand het hulle my besoek en weer bloeddruk geneem. Hulle het my kos in my kamer laat aflewer.  Gelukkig is my knie net gekneus en seer maar nie gebreek nie.

Die rede waarom ek hierdie persoonlike beriggie laat plaas is om my opregte waardering uit te spreek teenoor die personeel van Kronendal, in hierdie geval veral die versorgingseenheid en die kombuis.

Ek glo steeds dat die Here self my hierheen gelei het want ek kry die liefdevolle versorging wat ek nodig het.

Ek bid die Here se seën af op al die afdelings van Kronendal wat vir ons as die inwoners versorg met liefde en omgee.

Met opregte waardering

Lorein Winter  4H