Junie Uitgawe 57

Wel hierdie maand bring ons weer hulde aan ons Kroon-vaders op Sondag, 17 Junie. Ek hoop elkeen het sy familie en Kroonfamilie rondom  hulle of hoor van daardie kinders wat ver bly.

Baie dankie vir ‘ n suksesvolle Algemene Jaarvergadering. Baie dankie aan ons direkteure wat ons boot op veilige waters laat vaar. Alles het glad verloop en ‘n skoon oudit is gevier met heerlike verversings en gesellige verkeer. Baie dankie aan Chris en sy personeel.

 

Baie dankie aan ons Versorgingspersoneel wat, met die hulp van Bo, ons Krone gesond gaan hou hierdie winter.

 

Kroongroete/Crown greetings

Wanie (Redakteur/Editor)

 

  

Elize Myburgh, die Kroon wat elke nuwe Kroon welkom laat voel. Sy is ‘n nooi van Hartswater en het gematrikuleer op Jan Kempdorp. Sy het haar as onderwyseres be-kwaam op Graaff-Reinet en begin skool hou op Uitsig naby Hartswater.

In 1957 trou sy en gaan woon op Welkom waar haar eggenoot in die mynkantore gewerk het. Sy het toe die onderwysberoep laat vaar en in Volkskas bank gaan werk. Hulle het geskuif na Bloemfontein, Kroonstad, Pretoria, Harrismith. Laastens is hulle na Johannesburg waar hy as rekenmeester in die motorbedryf gewerk het. Sy het by ouditeure gewerk en later, waar sy ook afgetree het, by die Munisipale Pensioenfonds.

Haar eggenoot het nooit werklik afgetree nie, want hy het toe later vir homself gewerk. Hy was baie fiks en gesond en dit was ‘n groot skok toe hy op die tennisbaan aan ‘n hartaanval sterf. Dit was in 2014 net voordat hy 80 sou word.

Elize het toe in Januarie 2016 ‘n Kroon geword en is deel van die Inwonerskomitee en “gym” graag saam met die ander Krone.