November 2015 – Uitgawe 27

die kroon

Ek wonder watter Kroon onthou nog ons algemene PIN nommer wat ek al voorheen vir julle gegee het?

Dit is 4116—die 4de Evangelie, die 1ste hoofstuk, die 16de vers. “Uit Sy oorvloed ontvang ons Genade op Genade. Dit is wat elkeen van ons elke dag so mildelik beleef, want hier in Kronendal sien ons hoe elkeen liefde en omgee uitstraal. Dit maak ons oord so uniek, want is ons inwoners dan nie die Krone van Wysheid en Liefde nie?

Mag November vir elke Kroon geseënd en gesond wees. Vir Oumies en haar personeel wens ek sterkte  toe  en ‘n groot dankie aan hulle wat lekkerbkly in Kronendal moontlik maak, veral aan die Versorgingsengele.

Groetnis

Wanie (Redakteur

 

 

ElbieRegs:

Wat ‘n voorreg was dit nie vir my om met Elbie Botes te kon gesels nie. Ek het skaam gekry dat ek nie my seëninge tel soos sy hare tel nie. Sy is ‘n absolute blymoedige en dankbare mens wat glo aan die genade van die Liewe Heer.

Sy is op Springs gebore en het aan die Hoër Hugenote Meisieskool gematrikuleer. Sy is ’n weduwee vir 33 jaar. Haar man was net 47 jaar toe hy aan ’n hartaanval oorlede is. Hulle was hoteliers en het baie hard gewerk. Uit die huwelik is 3 seuns gebore.

Januarie 1990 is Elbie met Veelvuldige Sklerose gediagnoseer. Dit was ‘n groot aanpassing maar sy het nog gewerk tot 15/12/2000 toe haar spesialis haar aanbeveel het om op te hou. Sy het ‘n Kroon geword in Oktober 2001. Haar suster, Ans van der Merwe, het toe ook in Kronendal gebly.

Elbie, ek wens ons kan almal by jou leer om ons seëninge te tel.

 

 

Regs: Stoney Visser is gebore in die destydse Suidwes. Sy was daar in plaasskole maar het gematrikuleer aan die Hoërskool te Upington. Sy is in 1950 getroud enStoney hulle het toe 12 jaar op Upington gebly waar hy ‘n rekenmeester vir die Spoorweë was. Hulle is toe vir 3 jaar na Windhoek verplaas, daarna terug en in Kloofsig vir 23 jaar gebly. Haar man is toe oorlede en sy verhuis na Centurion vir 32 jaar. Daarna is dit reguit Kronendal toe vanaf 1/5/2013.

Hierdie ma het naaldwerk gedoen om haar 3 kinders deur universiteit te sien. Sy het 7 kleinkinders en 6 agterkleinkinders.

Stoney is ‘n baie kunstige dame en sy en ‘n vriendin het alle soorte kuns-handewerk gedoen wat hulle hul hande op kon lê. In haar kamer hang die pragtige bewyse daarvan. Noudat sy ‘n Kroon is, hou sy haar besig met brei en hekelwerk.

Stoney en ‘n paar van haar vriendinne bly nou in Kronendal— kyk maar na middagete op die patio.

 

 

RonnieGirty

Girty Cloete van die Versorgingseenheid en Ronnie Anderson van Instandhouding tree aan die einde van November af. Ronnie is na 20 jaar en Girty na 5 jaar diens moeg vir ons! Ons wens hulle ‘n rustige aftrede toe en nooi hulle om partykeer te kom tee drink.

 

 

MODERNE PSALM 23 VIR ALLE WERKNEMERS

Die Here is my eintlike Baas, ek kom niks kort nie.

Hy maak my rustig, al is daar chaos rondom my.

Hy bring my by wonders waar daar vrede is, al woed die “situasies” rondom my.

Hy gee my telkens nuwe krag wanneer die werk/las en die verantwoordelikhede my wil oorweldig.

Wanneer die gevaarlike weë van korrupsie vir my wink, lei Hy my tot Sy eer op die regte pad.

Selfs al gaan ek deur die donker dieptes van ontelbare e-posse, rekenaars en netwerke wat ‘oppak’

Die rugstekery van kollegas, bestuurders, begrotings en persoonlike seer aangeleentheid,

‘n Moeë liggaam wat ek soggens uit die bed moet sleep, en wat skynbaar nie meer so skerp is soos voorheen nie,

Sal ek nie bang wees nie, want U is met my, IN U HANDE IS EK VEILIG.

U laat my by die feesmaal van U liefde aansit, selfs al dreig die wêreld my met die ekonomie

Of wat ook al die situasie, U ontvang my soos ‘n eregas selfs al word ek telkens oor die hoof gesien deur medekollegas of selfs mense na aan my,

Ek word oorlaai met U hartlikheid al ontvang ek weinig erkenning vir my harde werk

U goedheid en liefde is vir my meer werd as enige bonustjek, want dit sal my lewe lank by my bly.

Al is my mediese voordele en my pensioen maar skraps, sal ek tot in lengte van dae by U tuis wees,

IN DIE EWIGE AFTREE-OORD WAT U VIR MY BELOOF.