Uitgawe 20 – April 2015

die kroon

Ek is terug van ’n heerlike vakansie van die Kaap al kus langs tot in George. Die weer was heerlik totdat ons in George reën gekry het al die pad tot hier in Gauteng. Ek kon darem op die berg gaan rondklouter.

Ek is die jongste van 6 kinders en dus het ek in 2 aftree-oorde gekuier, asook ‘n tannie gaan groet by ‘n ander aftree-oord en sommer vir vreemde tannies drukkies uitgedeel. Wat ’n voorreg!

Weereens het ek die Genade wat God so oorvloedig oor ons uitdeel , ondervind. Ons het veilig by ons bestemmings aangekom en ook weer veilig teruggekom.

Mag ons Krone die bietjie van April wat oor is aangenaam beleef.

 

Groetnis

Wanie(Redakteur)

Snyders

Links: Willie en Marjorie Snyders, vanaf 1 Junie 2011 Krone. Hulle het mekaar op ‘n bustoer ontmoet.

Willie het in ‘n plaasskool sy eerste Publieke eksamen geskryf in st 6. Hy was op hoërskool in Nylstroom, het B.Sc.(Chemie & Fisika) aan UP verwerf en ‘n Onderwys diploma aan Pretoria Normaalkollege. Na 1½ jaar se onderwys gaan doen hy chemiese ontledings vir ’n kopermyn in Noord-Rhodesië. Terug in SA was hy hoof van die smelterye en laboratorium van Consolidated Glass in Wadeville. Na 10 jaar keer hy terug die onderwys om later skoolhoof van ‘n hoërskool te wees.

Op 50-jarige ouderdom behaal hy sy B.Sc. Honneursgraad aan RAU en word aangestel as Inspekteur van Chemie en Fisika en later as Hoof Superentendent. Hy was ook Hoof-eksamenator en Moderator vir Fisika- en Chemievraestelle vir die matriekeksamen. Met aftrede is hy spesiaal vermeld deur die TOD vir Inisiatief met die tot standkoming van Gedesentraliseerde Opleiding van Chemie– en Fisika-onderwyrs en die gebruik van die Video en Rekenaar in die Onderwys.

Willie het sy enigste kind, uit sy eerste huwelik deur ‘n motorongeluk verloor.

Marjorie kom van Swartruggens. Sy het by die Departement Bosbou gewerk en ook opleiding ontvang by die Pretoriase Konserwatorium. Uit haar eerste huwelik is 3 kinders en later 5 kleinkinders gebore.

Baie dankie aan Marjorie wat Sondae tydens die kerkdiens die orrel speel.

Toekenings Eliot                     Toekennings

Bo: John, Elliot, Isaac, Gray, Daniel en Peter het hul opleiding as sekuriteitsbeamptes (verskillende grade) voltooi en op 27 Februarie is sertifikate aan hulle oorhandig.

Dieselfde middag is daar ook van Daniel afskeid geneem nadat hy ons verlaat het na 17 jaar diens by Kronendal.

 

Vasvra

Op Maandag, 2 Maart, het die rook uit die ore van ‘n paar Krone geborrel soos hulle gedink het. 4 Spanne, bestaande uit Isabel/Betsie/Ellen, Trudie/Martie/Rina, Nico/Susan/Willem en Thea/Hardus/Johan het aan die Vasvra-kompetisie deelgeneem. Sannie wou nie deelneem nie,maar het telkens van agter uit die gehoor die antwoord geskree! (Sannie, jou Karnallie!)

Die Krone was duidelik erg oor die kompetisie en meen dat dit weer moet plaasvind.

 

 

‘n Veer in die Hoed   deur Wilhelm Theron

By Kronendal span ons die Kroon

Dit is dié plek om in te woon

Kom loer hier in en jy sal sien

Jy word van kop tot toon bedien

Oorweeg die redes, maak seker dis eg

Wees dan verseker, jou keuse is reg

Wie wil dan nog verder soek

Kronendal van tog die koek!

 

UITTREKSEL UIT MEMO VAN 14 JUNIE 2005

  1. Probeer asseblief om nie in hysbakke te klim in die opgaan fase as u wil afgaan nie. Gebruik asseblief ‘n bietjie geduld en wag vir ‘n hysbak wat afgaan, indien u wil afgaan.
  2. Probeer asseblief om nie die hysbakke se deure te lank oop te hou tydens ‘n geselsie ens. of om die deure oop te stoot met loop-hulpmiddels en wandelstokke nie.
  3. ‘n Verdere versoek is om nie die voëls deur u vensters te voer nie. Die skoonmaker van die voorportaal en sitkamer moet voortdurend vrugte en brood by die voordeur optel.

 

Nou ja, dit is nou 2015 en, soos Esme Den Dulk dit stel, “ons het nog glad nie geleer in 10 jaar se tyd nie!”