Januarie 2019 Uitgawe 64

Dis 2019 en ons begin die jaar vol moed.

Ons het 2 Krone verloor oor die Kerstyd en ons diepste meegevoel aan hierdie familie.

Almal het swaar gekry onder die afgelope tyd se hitte maar sedert 30/12/18 het ons heerlike reën gehad  waaroor ons innig dankbaar is.

Ek glo die personeel wat met verlof was, is heerlik uitgerus en dat ons almal met volstoom sal begin werk—ons het Krone om gelukkig te hou.

Ek wens elke Kroon en personeellid ‘n baie voorspoedige en geseënde 2019 toe. Ons glo dat ons Hemelse Vader soos altyd Sy getroue  hand oor ons  sal hou.

Sterkte  aan almal vir die maand wat voorlê.

 

Kroongroete/Crown greetings

Wanie (Redakteur/Editor)

 

     

Connie Prine se lewensverhaal.

Cornelia Aletta (Connie) Zietsman is gebore op Hankey 14 Januarie 1919. Ons het op ‘n plaas gebly met die naam Rhu Allen. My Pa was die markmeester. Ek kan onthou dat hy altyd appels en pere huistoe gebring het. Ons was 5 kinders, 2 seuns en 3 dogters. Op 10 jarige ouderdom is my Pa oorlede en ons gesin het Humansdorp toe getrek waar ek skool gegaan en gematrikuleer het. Daarna is ek Pretoria toe waar ek in die staatsdiens gewerk het. Hier ontmoet ek Eben van Schalkwyk en ons trou op 31 Maart 1945 in Humansdorp. 2 Dogters, Roosmarí en Maryna word uit die huwelik gebore. Ons trek in 1950 Krugersdorp toe waar ek in die hospitaal werk en my man later ‘n drukkery besigheid gehad het. Ons het voorspoedige en geseënde jare in Krugersdorp ervaar. Op 20 September 1993 is my man oorlede. Ek het nog ‘n ruk alleen in ons huis gebly, maar het later na ‘n woonstel getrek.  Maryna, my dogter het in Pretoria gebly en daarom het ek in 1997 na Fleurenville, Pretoria verhuis. Opwindende tye het nog vir my voorgelê, want daar ontmoet ek my 2de man Piet Prins. Ons is in 2000 getroud en het 8 gelukkige jare saam gehad.  Die Here het my geseën met 4 kleinkinders, Eben, Reinier, Cornelia en Patrick en heelwat later kom 4 liefste agterkleinkinders, Fitzi, Patti en Rosie en Mieke by. 

Omdat Fleurenville na Montana verskuif het, was ek so bevoorreg om na Kronendal te verhuis waar ek nou my 100ste verjaardag kan vier. Alle eer aan ons Hemelse Vader vir ‘n vol, gelukkige en geseënde lewe.

 

Op 14/1/2019 word Connie Prins 100 jaar. Sy is ‘n Kroon vanaf 01/4/2017.

 

Jakarandaboom. Connie Prins. 

 Jakarandaboom, so blou, so pers,

Jy is soos ‘n brandende kers

Wat hoog sy vlam laat uitstraal

Wyl die kerswas stadig neerdaal. 

So troon jou skoonheid ver en hoog, 

Jou blou-pers kleed vang gou die oog,

Oor huis se dak gewaar ek jou

Al pronkend soos ‘n trotse pou, 

En sweef jou blomme na benede

Dan voel ek in my hart ‘n vrede,

‘n Rustigheid so groot en wyd – 

‘n Tere oomblik in die oneindigheid.

 

  

A very big thank  you to the sponsor of the new ice machine. I am sure all the residents appreciate it.

Baie hartlik dankie aan die skenker van die nuwe ysmasjien. Ek is seker elke inwoner waardeer dit.