February 2017 Edition 42

Dit is altyd die maand van die slegte nuus—die heffingverhogings. Laat ons dit maar in ‘n positiewe lig sien want eet moet ons eet! Ons direkteure hou goeie oog sodat ons boeke klop.

Good luck to the new Residents Committee with all their challenges for 2017. Thank you to the old committee for their dedication the past year.

Baie dankie ook aan elke personeellid wat ons Krone so getrou dien.

Ek gee Die Kroon so ‘n bietjie vroeër uit en die Maart uitgawe sal eers in die 2de helfte van Maart verskyn weens omstandighede.

Geniet elke oomblik van Februarie want herfs is om die draai!

Kroongroete/Crown greetings

Wanie (Redakteur/Editor)

 

 

Bo: Empie Maritz en haar familie.

Vlnr: Anita(New York), Ilse (Australië, Karin met seuntjie    Aaron (Australië), Dr Danie Maritz(seun) van RSA, Empie, Esmé (skoondogter van RSA.

Na 10 jaar was Empie en haar gesin weer almal saam in Australië.

Anita het spesiaal van New York, waar sy werk, na Australië gevlieg. Ilse werk in Brisbane, Australië. Empie se seun is ‘n oogspesialis in Benoni en sy vrou is ‘n besige huisvrou.

Karin is gertroud met Charl Taylor, ‘n oud-Suid Afrikaner en hulle het ‘n 2½-jarige seun, Aaron, Empie se eerste agterkleinkind.

Al 3 dogters het hul Meestersgrade in Suid Afrika behaal maar kon nie werk kry nie. Karin het nie net ‘n werk as biogenetikus in Australië gekry nie, maar ook ‘n beurs vir haar doktersgraad en is verbonde aan die Universiteit van Brisbane.

Anita is die kunstige een van die drie. Sy skilder en is bestuurder van ‘n kunsfirma in New York.

Empie het jare gelede vir elke kleindogter ‘n jeugboek geskryf waarin die hoofkarakter haar naam het. Toe klein Aaron gebore is, kry Empie die oproep van Karin wat wil weet wanneer Aaron sy boek kry? Na 14 dae slaaploosheid het Empie toe sy boek, “ Aaron se Arendsvlug” geskryf.

Empie ek glo jy het nog nooit so ‘n heerlike Kersfees gehad nie.

Bo: Nellie Strydom is gebore in Middelburg maar het in Alberton grootgeword. Sy was ‘n tikster by die Spoorweë totdat sy getroud is en ’n huisvrou en mamma geword het.

Haar hele verhaal is een van liefde en geluk.

Sy het haar toekomstige man ontmoet toe sy 3 jaar oud was. Dit was haar boetie se maatjie. Hy het altyd haar fiets vir haar reggemaak. Hy het eenkeer vir haar ‘n appel gegee. Sy het dit begin eet maar toe kom vra hy dit terug. Sy gee dit toe vir hom en hy gaan gee die appel-half geëet—vir ‘n ander dogtertjie! Wil jy nou meer!!

Die liefde was egter sterk genoeg. Hy het gereeld vir haar 20c gegee, dan gee sy vir hom ‘n soentjie deur die venster!

Hulle is toe in 1955 getroud en het 7 kinders. Nellie is al ‘n weduwee vir 12 jaar. Sy het ook 22 kleinkinders en 12 agterkleinkinders.

Sy is ‘n vriendelike Kroon vanaf Junie 2016. Haar skoonsuster, Martie Venter, is ook ‘n Kroon.

Bo; Anna van de Venter, is ‘n baie mooi Kroon. Ek sou haar graag wou sien toe sy jonk was! Het seker die manne se knieë lam gemaak.

Anna en haar man het Krone geword in Oktober 2014.

Anna was ‘n nooi De Klerk en is gebore op Maclear. Haar kinderlewe het meestal tussen Kimberley en Warrenton afgespeel. Sy het skool klaar gemaak op Warrenton en toe by afslaers gaan werk. Sy het haar man hier ontmoet en is in 1949 getroud. Hy was ‘n Spoorwegamptenaar. Sedert hul 2 kinders se geboorte was sy ‘n huisvrou en ‘n mamma.

Sy het ook 5 kleinkinders en 3 agterkleinkinders.

Na hul aftrede in Warrenton is hulle na Bloemfontein en met haar man se siekte is hulle na Kronendal. Hy is egter 2 weke daarna oorlede. Gelukkig is hierdie mooi Kroon nog by ons.

Bo: Edward Webb het die onderstaande pragtige gedig geskryf om totsiens te groet:

DIS TYD

 n Tyd om te breek,‘n tyd om te bou.

Ek sê totsiens, groot gebou

So baie by jou geleer,

Ook van mense se seer.

Nou is dit tyd vir afskeid neem.

Spreek oor jou die Here se seën.

So los ek die mense in U hand

Ek verlang na die see en sand

Ek moet aan myself ook dink

Staan sterk in storm en wind.

 

Aan; Die Bestuur, Inwoners en al die personeel.

Ek verlaat Kronendal omdat ek ‘n pos naby my huis aanvaar het.

Ek sou graag by almal wou uitkom om persoonlik te groet maar dit was onmoontlik. Daarom wil ek nou vir elke Kroon alles van die beste toewens vir die toekoms en glo dat die Here se seën met u almal sal wees. Ek het baie lekker ge-werk hier en gaan moeilik hier weg.

Liefdegroete

Suster Ansie Gräbe.

…………………………………………………………………………….

Ek wil graag vir Kronendal bedank vir die uitstekende versorging van my Moeder die twee jaar wat dit haar

tuiste was.

Ons kon nie vir beter gevra het nie. Van die eerste dag af was daar wonderlike hulp en bystand. Niks was ooit te veel moeite vir julle nie.

Die pragtige tuine was lafenis vir die siel en so ook die mooi skilderye en rustigheid van Kronendal.

Finansieel was Kronendal ook werklik die beste waarde vir geld.

Ek sal Kronendal graag aanbeveel vir enige bejaarde.

Groete

Christine Vermaak (dogter Ria Neethling)